Ons gemeente was oorspronklik deel van die Knysna NG gemeente. In die vroeë negentien honderds was die predikante op perde, osse en waentjies aangewese vir vervoer en was die gebied net te groot van Sedgefield tot by die Bloukransrivier om te bedien. Op 29 Januarie 1930 hou die wyse manne toe ‘n vergadering op Wittedrift en besluit om die gebied te verdeel tussen Plettenbergbaai en Knysna. Daar moes toe besluit word waar die beste plek vir ‘n Kerkgebou was en Wittedrift het gewen. Die beskikbaarheid van water vir die osse was deurslaggewend en daar is besluit dat Wittedrift die setel sou wees van die nuwe Oostelike gemeente.

Die gemeente was steeds uitgestrek en daar word vertel dat Ds. Coetzee, ons eerste predikant, deur een van die ouderlinge na die Soetkraal-wyk op huisbesoek geneem is. Vir die wat nie weet nie, Soetkraal is daardie gebied noord van the Craggs en suid van die Langkloof. Dit het hom twee weke geneem om sy huisbesoek te voltooi, maar die huisbesoek was geweldig waardeer omdat dit die eerste huisbesoek in twaalf jaar was.

Die George-ring, waaronder die McLachlan-gemeente geval het, het die gemeente vernoem na ‘n Knysna predikant wat baie goeie werk gedoen het in Knysna voor die afstigting. Blykbaar was die besluit om Wittedrift as setel te kies redelik sensitief en is besluit op ‘n neutrale naam vir die gemeente.

Ds Coetzee moes die eerste 6 maande by oom Thys van Huyssteen woon en toe ‘n huis op Wadrift huur. Die eerste prioriteit was dus om vir die predikant ‘n pastorie te bou. Die wyse manne het weer bymekaar gekom en £850 (R1700) begroot vir die pastorie. Die naaste kwotasie was toe £1213. Daar is besluit om die begroting te verhoog na £1000 en die pastorie kon gebou word met die hulp van die boere wat sand en gruis aangery het vir net ‘n dankie. Oom Thys van Huyssteen het die grond vir die Kerk en pastorie geskenk.

Dienste is vir eers in ‘n ou skoolsaaltjie gehou. Dit was later nie meer groot genoeg nie en die kerkraad het weer ‘n bedrag begroot, die keer £3000, vir die bou van ‘n Kerk met minstens 600 sitplekke. Die kerk op Wittedrift is uiteindelik vir £2500 gebou, soos dit nog vandag daar staan.  ‘n Ongelooflike prestasie as ons in gedagte hou dat al die kerkbanke uit geelhout van ons eie woude gemaak is, en die preekstoel uit witels.  Ons moet onthou dat die afstigting plaasgevind het kort voor die depressie van die negentien-dertigs en dit dus nog moeiliker was om sulke omvangryke bouwerk te doen.

Daar was reeds tydens die stigting van die McLachlan gemeente lidmate wat gedink het dit sou beter wees om die kerk op Plettenbergbaai te bou. Plettenbergbaai se probleem was egter dat daar nie drinkwater vir die osse was nie en omdat die vervoer hoorsaaklik van osse en perde afgehang het, is die kerk toe op Wittedrift gebou.  Daar is egter in 1935 op Plettenbergbaai ‘n kerksaal gebou met sitplek vir 300 lidmate. Dienste is maandeliks daar gehou en nagmaal een keer per jaar. Die lidmate sou ook daar kon trou, maar voorstellings en aannemings is slegs op Wittedrift waargeneem.

Soos water in 1930 die kerk na Wittedrift gebring het, het water ook vir Plettenbergbaai ‘n kerk gebring. Die publiek het Plett se water (die see) ontdek en dit het ‘n al groter vakansiebestemming geword. Mense wat daar vakansie gehou het, het so van Plett gehou dat sommige besluit het om hul permanent daar te kom vestig. Plet het gegroei en die hoofdorp in die omgewing geword. Vervoer het verander van ossewaens na motervoertuie en drinkwater vir diere het minder belangrik geword as seewater.

Dit spreek vanself dat druk sou ontstaan dat daar ook ‘n kerk op Plettenbergbaai gebou moes word. Lidmate het vinnig in die Plett gebied toegeneem, en het die getalle die van Wittedrift verby gegaan. Die rede waarom die kerk op Wittedrift gebou is, het verdwyn. Die N.G. Kerk moes ‘n kerk in Plettenbergbaai bou. ‘n Mens het begrip dat dit nie noodwendig ‘n maklike proses was nie, veral omdat baie van die bates (soos die grond), uit die Wittedrift gemeenskap gekom het. Ek dink tog dat die hand van die Here duidelik is in die gebeure. Ons sit vandag met twee kerkgeboue wat ons nie sou gehad het as die een in Plettenbergbaai nie gebou was nie.

Gedurende 1986/1987 word daar toe ‘n kerkgebou in Plettenbergbaai gebou wat in Augustus 1987 ingewy is. Ds. Eggie Dippenaar was die leraar en het dan ook die eerste leraar geword wat die Plett pastorie bewoon het. Die feit dat die naam van die gemeente verander is kort na die kerk in Plettenbergbaai gebou is, het die proses waarskynlik bemoeilik. Die N.G.Kerk McLachlan het die N.G Kerk Plettenbergbaai geword. Die spoedige opvolging van die naamsverandering na die oprigting van die kerkgebou op Plettenbergbaai het die persepsie laat ontstaan dat die Plettenbergbaai-lidmate nou beheer oorgeneem het by die Wittedriift lidmate as die hoofgroep van die gemeente. Daar was ‘n sterk gevoel van wen en verloor onder sommige gemeentelede, en dan was daar ook nog diegene wat gevoel het daar is nie genoeg gewen nie en ander het weer gevoel te veel is verloor. Hierdie persepsies het ongelukkig verwydering tussen die twee groepe gebring vir ‘n lang tyd. Eintlik is dit jammer dat hierdie persepsies ontstaan het. Nie een van die twee kerke is tog vir die mense gebou nie. Dis tog ‘n verdere plek van aanbidding wat geskep is tot uitbreiding van die bediening van Gods Woord.

Dit is maar eers van die afgelope paar jaar wat die objektiewe siening oor die twee kerkgeboue begin seevier het. Tans het ons vir almal in die gemeente keuses van diensbywonings-tye. Vroeër in die oggend kan die dienste in Plettenbergbaai bygewoon word en ‘n bietjie later in Wittedrift vir diegene wat bietjie later wil lê. Uiteindelik het dit aan almal duidelik geword dat dit nie saak maak waar ons die bediening van die Woord ontvang binne ons gemeente nie.

(Geskryf deur Rikus Truter)

Ds. Coetzee Ds. Strydom Ds.Kritzinger Ds. Du Toit Ds. Scholtz

(1931 - 1943)

Ds. PH Coetzee is in Julie 1931 op Wittedrift bevestig en het vir 'n tydperk van 12 jaar in die gemeente bedien. Twee van sy seuns het ook predikante geword en sy dogter het met 'n predikant getrou. Hy moes vir 'n lang ruk huisbesoek te voet of te perd doen, totdat die gemeente 'n Ford motor totsy beskikking kon stel. Die gemeente was arm met die amptelike status van hulpbehoewende gemeente. Sy kleindogter, Christelle Du Plessis woon in Plettenberg Baai.

(1943 - 1946) 

Ds. JDW Strydom was vir 'n kort tydperk van 3 jaar die gemeente se leraar. Hy het baie gedoen om die gemeente se finansiele posisie te verbeter. Die bydraes het in drie jaar vervyfvoudig en die gemeente het daarmee sy hulpbehoewende status en skuldlas afgeskud. Hy het vertel van sy herinneringe van die nagmaalvieringe met die kerkplein wat vol waens staan en ook die blymoedigheid, blydskap en dankbaarheid wat lidmate uitgeleef het.

(1946 - 1967)

Ds. CC Kritzinger was vir 21 jaar leeraar van ons gemeente. Met 'n passie vir opvoeding het hy letterlik kinders gaan uithaal uit die bosse om skool te gaan.

   

 

© 2018 - Noorderkruis

Please publish modules in offcanvas position.